profile pic

Woordsoorte: 'n Inleiding

Vrydag, 27 Maart 2020 Geplaas deur Sophia Kapp

Woordsoorte is een van daardie afdelings van grammatika waaroor die meeste mense ʼn hoofpyn kry as hulle net die term hoor. Die herkenning van woordsoorte is ook vir die meeste leerders ʼn moeilike vaardigheid om aan te leer, want dis soms ʼn gesukkel, soms ʼn haarklowery, en soms ʼn moeras van verkeerde inligting wat almal net van die wal in die sloot help.

So swaar as wat dit is, is dit allernoodsaaklik om die herkenning van woordsoorte wel te bemeester, want daar is bykans nie ʼn hoofstuk in die AWS waarin daar nié na woordsoorte verwys word nie. As jy spelreëls wil verstaan, moet jy woordsoorte kan herken. Dit help veel daar is ʼn reël soos "eienaamwoorde word met hoofletters geskryf", maar ʼn mens weet nie wat ʼn eienaamwoord is nie. Of "byvoeglike naamwoorde word los geskryf", maar jy weet nie hoe om te bepaal of privaat ʼn byvoeglike naamwoord is of nie. (Dit is.)

In hierdie reeks blogs oor woordsoorte probeer ek om ten minste net ʼn voetpad in die oerwoud te skep. Ons (dis nou ons hier by VivA) is besig om ʼn behoorlike grammatika te skryf waarin die saak meer breedvoerig en wetenskaplik uiteengesit sal word, maar intussen is daar hierdie hulp vir ouers en leerders wat darem iets in die koronatyd moet leer.

LEES VERDER
profile pic

Afskeidsode aan die aanvoegende wyse

Donderdag, 05 Maart 2020 Geplaas deur Sophia Kapp

Ek het sedert die begin van die jaar 'n hele paar navrae oor die sogenaamde "aanvoegende wyse" gehad. Ek vermoed die ding het iewers in 'n vraestel sy verskyning gemaak, want ek kom agter daar is so 'n ligte aggressie in die formulering van die vrae wat na my kant toe geslinger word. Nie dat ek die vraagstellers vir hulle aggressie verkwalik nie. Kom ek stel dit so: Ek het in 1982 gematrikuleer, en ek het verlede jaar eers geleer dat daar so ʼn ding soos die aanvoegende wyse is. Die aggressie oor 'n taalfossiel wat uit die dood uit opgewek is om skoolkinders te terroriseer, is nie misplaas nie.

LEES VERDER
profile pic

Hoofbrekens oor hoofletters

Donderdag, 27 Februarie 2020 Geplaas deur Sophia Kapp

Ek kry verbasend baie navrae oor hooflettergebruik. Op die keper beskou, is dit seker nie so vreemd nie, want die reëls vir hoofletters in van die ouer uitgawes van die AWS het vermeerder soos ʼn konynkolonie in ʼn onbewaakte agterplaas, juis omdat die taalgemeenskap hoofletters in soveel verskillende kontekste vir soveel verskillende goed aanwend. Dink byvoorbeeld aan die manier waarop hoofletters in regstekste gebruik word: Die Klaer en die Klaagster sê mekaar die stryd aan in ʼn Egskeidingsgeding en moet ʼn Skikking bereik waarin die Afhanklikes se Onderhoud bepaal word. As ek deur so ʼn dokument geworstel het, voel ek vir ʼn hele paar minute daarna Duits.

LEES VERDER
profile pic

Moedertaaldag 2020

Donderdag, 20 Februarie 2020 Geplaas deur Sophia Kapp

Dit is môre Moedertaaldag, die dag waarop elke taal in die wêreld erkenning kry vir die unieke skat wat dit is. Die dag waarop elke spreker bestek kan opneem van die taal waarmee hy of sy die wêreld leer ken het – die taal wat jy by jou ma geleer het, soos Hans du Plessis sê. Die taal waarin jy juig as dit goed gaan, bid as dit swaar gaan, en vloek as nie een van die twee meer wil werk nie.

LEES VERDER
profile pic

Laat hy val waar hy wil

Vrydag, 20 Desember 2019 Geplaas deur VivA-redaksie

heildronk Deur Jana Luther   

Die jaar loop uit. Ons berei voor vir Kersfees. Oor ’n bietjie meer as ’n week wag ons in die holste van Oujaarsnag op Nuwejaar, en dan dans of strompel of slaap ons die ou jaar uit, die nuwe in.

“Nuwejaar”. Een woord, vas, ja, met ’n hoofletter en meestal sonder ’n lidwoord, as die skrywer Nuwejaarsdag, 1 Januarie, bedoel. Twee woorde, los van mekaar, met kleinletters, “die nuwe jaar”, verwys na die volgende 365 dae, of, as dit ’n skrikkeljaar is, 366.

As ’n angsgevoel ’n mens skielik oorval en jou lyf onwillekeurig ruk, skrik jy. Dit is dalk die gevoel wat dié nuwe jaar by baie van ons wek. Duisend jaar gelede in Middelnederlands, het “skrik” beteken “om aan te stryk, om met lang treë te stap”. Nog vroeër was “skrik” “spring”.

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK