Moedertaaldag 2020

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag, 20 Februarie 2020
Gepubliseer in Nuus;

Dit is môre Moedertaaldag, die dag waarop elke taal in die wêreld erkenning kry vir die unieke skat wat dit is. Die dag waarop elke spreker bestek kan opneem van die taal waarmee hy of sy die wêreld leer ken het – die taal wat jy by jou ma geleer het, soos Hans du Plessis sê. Die taal waarin jy juig as dit goed gaan, bid as dit swaar gaan, en vloek as nie een van die twee meer wil werk nie.

Natuurlik is dit dan ook ʼn dag waarop ek oor Afrikaans bestek opneem. Toegegee, my verbintenis met Afrikaans is hegter as net sentiment en meer as ʼn verbondenheid met ʼn groep mense. Ek verdien my brood en botter in Afrikaans, en as die taal verdwyn, eet ek nie. Die oorlewing van Afrikaans is nie vir my ʼn akademiese of ideologiese argument nie, die oorlewing van Afrikaans is my oorlewing.

Juis daarom is die druk op Afrikaans iets wat ek persoonlik opneem. Ek weet ek moenie, want niemand wat Afrikaans bedonner ken my eers nie, en hulle konkelwerk het niks met my te doen nie. Maar hulle konkelwerk raak my donkerwerk, en elke nou en dan raak dié donkerwerk my baas.

Die druk op Afrikaans uit amptelike oorde is ou nuus. Dat die regering nie ʼn vriend van Afrikaans is nie, is vir niemand meer ʼn verrassing nie. Ek dien op regeringsliggame waar Afrikaans uit die hoofde van wetgewing ʼn verteenwoordiging het, en hoewel die amptenare met wie ek te doen het uiters vriendelik en behulpsaam is, is dit uit befondsingsaansoeke duidelik dat die kraantjie vir Afrikaans toegedraai is. Afrikaans het reeds, is die argument, en Afrikaans kan nie regeringsgeld kry vir nog ʼn woordeboek as ander tale nog terminologielyste moet begin ontwikkel nie. Daarom word alle werk wat vir Afrikaans gedoen word uit eie geledere befonds, en moet die mense wat die werk doen dit uit liefde vir die taal doen. Dat dit hoegenaamd nog gebeur, is ʼn wonder.

Die ander slagveld is onderriginstansies waar Afrikaans as onderrigmedium gebruik word. Ons ken die generaals in dié stryd ook al goed, en ek is nie op Twitter nie, juis omdat ek hulle en hulle juigkommando's se vitrioel wil vermy. Maar so venynig as wat dié aanvalle is en so groot as wat die bedreiging vir Afrikaans as onderrigmedium is, is die grootste skademakers hier nie die owerhede nie, maar Afrikaanssprekers self. Want hierdie hele ding is ʼn getallespel. As daar genoeg kinders in ʼn skool is om Afrikaansmediumonderrig te regverdig, sal die skool Afrikaans bly. Die druk op Afrikaanse skole ontstaan omdat ouers hulle Afrikaanse kinders by Engelse skole gaan inskryf. Nie omdat die skole Engels is nie, maar omdat dit privaat is.

Hierdie soort druk op Afrikaans vanuit eie geledere speel op alle terreine uit. ʼn Kollega stuur onlangs vir my ʼn opiniestuk aan waarin iemand wat van beter behoort te weet dit het oor die Taalkommissie, die leksikograwe by die HAT en die WAT, die wurggreep wat die Afrikaanse woordelys en spelreëls op die taal het, en die engheid van die taalgemeenskap wat hulle aan taalreëls steur. So asof Afrikaans die enigste taal op die planeet met taalreëls is. So asof standaardisasie iets is wat die Taalkommissie uitgedink het. So asof die Taalkommissie nie die bestaan en belangrikheid van niestandaardvariëteite in die voorwoord van die nuwe AWS erken het nie. So asof enigeen glo ʼn mens word met Standaardafrikaans in jou kop gebore. So asof die ganse taalgemeenskap nie eintlik een of ander vorm van nie-Standaardafrikaans praat nie. Ek meen, serias?!

En dan is daar die navraers, die "gewone" taalgebruikers, wat my whatsapp en vra of daar "cool" vertalings is vir "like" of "band" of "influencer". En as ek sê ja, jy "hou van" iets, dit is ʼn "orkes" en iemand is ʼn "beïnvloeder", kry ek ʼn prentjie van ʼn groen gesiggie wat opbring. Hoekom? wonder ek altyd. Dit is geldige vertalings. Dit is waarvoor hulle gevra het, en dis nie asof die Afrikaanse woord minder duidelik of beskrywend of bruikbaar is nie. Maar om een of ander rede is geldige Afrikaanse woorde louwarm van uncoolgeit, en is iemand wat Afrikaans behoorlik beheers ʼn dodo. Ek kon nog nie mooi agter die kap van hierdie byl kom nie, maar dit slaan my dronk dat Afrikaans blykbaar die enigste taal is waar jou onvermoë om jou daarin uit te druk en jou onkunde oor gevestigde uitdrukkings jou cool maak.

Maar die spulletjie wat my werklik verstom, is die anglisismebrigade, die verdagmakers wat ʼn mens op sosiale media verguis oor jou gebruik van ʼn gevestigde vakterm soos "adjektief" of "konjunksie", maar nie die verguising kan volvoer sonder om drie spelfoute per sin te maak nie. Dit is mense wat nie naslaan nie, nie vra nie, nie omgee hoe hulle Afrikaans lyk nie, maar wat jou uitkryt as ʼn volksverraaier en ʼn joiner, en vir jou doodsdreigemente stuur omdat jy nie hulle ideologie oor Afrikaans ondersteun nie. En nee, ek oordryf nie, dit het al gebeur. Dit sal weer. Heel moontlik in reaksie op hierdie skrywe.

Op hierdie Moedertaaldag is ek dus effe moedeloos. Hierdie taal van my hart, van my mense, van my land, van my gebeente, steier. Hy is vuisvoos, en hy is moeg. Ek is ook. Baie dae wens ek ek kan die Italiaanse regering se aanbod van ʼn $1-huis in Sisilië aanvaar en daar behuising vir persone van losse sedes gaan oopmaak sodat ek jong wyn kan drink en vir die see kyk terwyl ander vir ʼn slag húlle lywe vir my oorlewing verkoop.

Maar ek weet ek kan nie. Ek wil nie. Want ek het nou maar eenmaal hierdie taal se woorde in my kop, sy musiek in my ore, en sy geskiedenis in my gebeente. En ek weet nou al ook, juis omdat my mense my dit vertel het, dat Afrikaans al slegter daaraan toe was as nou, en steeds oorleef het. Dis die ding van enigiets wat in mense se harte leef – dit is blywend. En ander kan maar geld weerhou en skole toemaak en twak in die koerant skryf en ander voos vloek, dit gaan nie hierdie taal van my vernietig nie. Solank ek weet wie my moeder was, sal ek weet wat my taal is, en dit sal ek weet tot ek die dag my kop neerlê.

VivA-groete

Sophia

Lees 1694 tye Laaste modifikasie op Vrydag, 15 Mei 2020 12:55

2 Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel Christine Marais Saterdag, 29 Februarie 2020 17:59 geplaas deur Christine Marais

    Medalje vir jou wat so raak verwoord wat baie mense voel!

  • Kommentaarskakel Rehana Mohamed Maandag, 24 Februarie 2020 03:33 geplaas deur Rehana Mohamed

    Absoluut fantasties, Sophia Kapp... Die taal is in my hart.. In murg en been.. In siel.. In vlees.. Dankie vir n artikel wat my hartsnare net weer laat roer.. Ek hoor als wat jy se oor my Afrikaans...

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK